1 min read

Waneer ’n nuwe baba in ’n gesin opdaag, bring dit groot veranderinge in jou kind se lewe mee, en dit mag emosies en bekommernisse in hom na vore bring sonder dat hy bewus is daarvan of dit in woorde kan omsit. 

’n Oudste kind sal altyd ’n ander ervaring hê van gesinslewe as die res van die kinders, omdat daar ’n tyd was wat hy alleen saam met sy ouers was. 

Om die voorreg van hierdie posisie te moet prysgee, kan met rebellie en onsekerheid gepaard gaan. Dit is ’n logiese emosie, en hy mag maar rou oor die verlies van sy posisie. Gee hom baie liefde en verseker hom dat hy steeds net so belangrik soos voorheen is. 

Verduidelik vir hom dat hy nou ’n nuwe rol en posisie in die gesin kry, nl. dié van ouboet of ousus en dat dit ’n baie belangrike rol is. Sorg dat jy altyd ’n arm vry het om jou oudste mee vas te hou, al hou jy die baba ook vas. Berei hom voor op die realiteit van ’n nuwe baba en verduidelik vir hom hoe baie sorg die baba gaan nodig hê. Vertel vir hom hoeveel aandag en sorg hy ook gekry het toe hy klein was. 

Sorg dat daar elke dag ’n bietjie alleentyd vir jou oudste kind is saam met sy pa sowel as saam met sy ma. Vra hom om ’n foto van hom uit te kies om saam met Mamma hospitaal toe te stuur sodat sy die hele tyd aan hom kan dink. Koop ’n spesiale present van jou oudste kind aan die baba, maar ook van die baba aan hom. Laat jou kind toe om sy emosies uit te druk, maar moenie toelaat dat hy jou manipuleer nie. Moenie vir hom sê hy mag nie so voel nie, maar gee meer aandag aan positiewe gedrag as aan negatiewe gedrag. Neem hom saam op hospitaalbesoeke, waar moontlik, en kuier met hom by vriende wat ook onlangs ’n nuwe baba gehad het. 

Wanneer jou kind se bekende omstandighede verander, is dit nodig dat jy hom gereeld herinner aan die dinge wat nooit sal verander nie, soos jou liefde vir hom. Jy kan nie al die stampe en stote in sy lewe wegneem nie, en jy behoort dit ook nie te doen nie. Verandering is deel van die lewe, en om te leer om aan te pas by nuwe dinge, is ’n vaardigheid wat jou kind nodig het. Gee vir hom baie begrip, maar moenie simpatie gee nie. Uiteindelik is ’n boetie of sussie tot jou kind se voordeel, en hy gaan die vrugte daarvan pluk. 

Sterkte

Comments
* The email will not be published on the website.