Slegs 31% van kinders wat verlede jaar deur die Britse kinderboek-reus Scholastic ondervra is, lees byna elke dag’n boek vir genot. Die afgelope vier jaar was daar’n redelike daling in die persentasie van kinders wat vir pret lees ̶ iets wat waarskynlik nie net tot die Britse samelewing beperk is nie.
Maar is dit iets om oor bekommerd te wees? Verbeter lees vir plesier regtig kinders se leervermoë? Navorsers sê ja.’n Britse kohortstudie volg 17 000 mense wat in dieselfde week in 1970 in gebore is. Teen die tyd wat hulle 16 jaar oud was, het kognitiewe toetse getoon dat diegene wat gereeld vir die genot daarvan lees, se intellektuele vordering in terme van woordeskat, spelling en wiskunde beter was as die van hulle eweknieë. Volgens die navorsers help ’n goeie leesvermoë kinders om nuwe inligting te absorbeer het dit ook ’n invloed op hulle prestasie in ander vakgebiede soos wiskunde.
Lees word ook met verbeterde begrip geassosieer. Kinders wie se ouers vir hulle hardop lees, leer meer komplekse woorde as wat hulle sou as hulle self lees. Veral prenteboeke word met die aanleer van komplekse woordeskat geassosieer. Verder versterk voorlees die band tussen ouer en kind omdat dit met liefde geassosieer word. In Scholastic se opname het kinders dikwels aangedui dat hulle voorlees assosieer met kwaliteittyd saam met ’n ouer.
So hoe maak jy jou kind lief vir lees? Kenners gee ’n paar wenke:
1. Begin vroeg
Jy kan nooit te vroeg begin om vir jou kind te lees nie. Selfs al kan jou kind nog nie praat nie, stimuleer dit sy taalontwikkeling en woordeskat.
Die beste manier om te verseker dat jou kind lief raak vir lees, is om self vir ontspanning te lees.
Jaco Jacobs, bekende Afrikaanse kinderboekskrywer, sê dis belangrik om jou kind van kleins af toe te laat om self boeke te kies: “Gaan op ’n uitstappieboekwinkel toe en gee jou kind die geleentheid om self rond te snuffel en boeke te kies.”
Dit is waar dat boeke jou slim maak, maar Jacobs waarsku dat ouers nie te veel klem daarop lê nie. Kinders hou van speel en dis belangrik dat hulle sien dat boeke pret kan wees.
“Raak betrokke by jou kind se leeswêreld, vind uit wie sy gunstelingskrywers is en doen moeite ommeer oor die skrywer se boeke uit te vind,” is Jacobs se raad.
Nal’ibali, ’n nasionale organisasie wat hom beywer om ’n liefde vir lees en stories by kinders te kweek, moedig ouers aan om vir hulle kind in sy moedertaal te lees̶ – dit verseker dat lees makliker en lekkerder is.
Babas en kleuters leer deur hulle sintuie te gebruik. Nal’ibali beveel aan dat ouers hulle kinders aan gedrukte boeke blootstel. Om aan ’n boek te vat, dit vas te hou en bladsye om te blaai, is deel van’n kind se leerproses.