1 min read

Lekkerbekkie die muis het ‘n baie mooi huisie. 

Die huisie is in ‘n tonneltjie in die grond. Dis lekker warm en sag. Maar op ‘n dag reën dit vreeslik hard. Dit reën so hard dat die water by Lekkerbekkie se huisie instroom! Alles is nat! 

“Agge nee!” roep Lekkerbekkie. “Nou moet ek ‘n nuwe huisie gaan soek.” 

Lekkerbekkie die muis pak al sy kleertjies in ‘n tas, en toe die reën ophou, stap hy die wye wêreld in. Hy soek vir hom ‘n nuwe huis. Na ‘n rukkie sien Lekkerbekkie ‘n baie mooi huisie onder ‘n groot klip. “Hier sal die reën my nie kry nie!” roep hy bly uit, en loer by die huisie in. Maar o aarde! Twee blink ogies loer terug! Daar woon al iemand in die huisie onder die klip. Dit is Akkedissie wat daar woon. 

Nou soek Lekkerbekkie maar ‘n ander huis. Hy stap en hy stap, en na ‘n rukkie sien hy ‘n baie mooi huisie tussen die blare. “Hier sal die reën my nie kry nie!” roep hy bly uit, en loer by die huisie in. Maar agge nee! Twee blink ogies loer terug! Daar woon alreeds iemand anders in die huisie tussen die blare. Dis Skilpad wat daar woon. 

Arme Lekkerbekkie stap weer verder. Hy soek en soek na ‘n huis wat net reg is vir ‘n muis. Nadat hy ver geloop het, sien hy ‘n baie mooi huisie hoog bo in ‘n boom. Daar sal die reën hom mos nooit kry nie! Maar daar woon iemand bo in die boom! Dis Mossie die mossie wat woon in die boom. Daar is nie plek vir Lekkerbekkie die muis nie. 

Arme Lekkerbekkie begin te huil. “Waarom huil jy, Lekkerbekkie?” vra Mossie die mossie daar bo uit die boom. “Ek huil omdat die reën my huisie gevat het,” snik Lekkerbekkie, “en nou kry ek nêrens ‘n nuwe huisie nie.” 

Maar Mossie die mossie vlieg af uit die boom en kom troos vir Lekkerbekkie. “Moenie meer huil nie,” sê sy. “Kyk op. Kyk op! Dáár is ‘n huisie vir jou! Dit was eekhorinkie s’n, maar hy het getrek en nou is dit leeg.” Lekkerbekkie droog sy traantjies af en kyk op. En daar in die dik stam van die boom, ‘n entjie van die grond af, is die mooiste huis wat hy nog ooit gesien het! ‘n Huis in ‘n gaatjie in die stam van die boom! Die beste huis vir Lekkerbekkie die muis! “Daar sal reën my mos nooit kry nie!” lag Lekkerbekkie. “En daar kan ek vir ewig en altyd woon.” “En ons kan bure wees, ek en jy,” sê Mossie die mossie. 

“Welkom tuis, Lekkerbekkie die Muis!”


Comments
* The email will not be published on the website.