1 min read

Vandag is Gertjie saam met sy mamma en sy baba-sussie in die winkels. 

Sy mamma is haastig, en sy loop vinnig tussen die rakke deur. Sy stoot Gertjie se baba-sussie in die trollie. Gertjie is moeg van al die inkopies. 

Toe hulle by die speelgoedrak kom, sien hy 'n groot, sagte teddiebeer op die vloer sit. Hy besluit om 'n rukkie op die beer se skoot te sit en rus. 

Maar toe hy opkyk sien Gertjie iets wat sy ogies sommer groot laat rek. Dis 'n blou superheld-pak wat daar teen die rak hang! Hy wou nog altyd so 'n pak gehad het! 

“Mamma!” sê Gertjie. “Kyk!” Maar Gertjie se mamma is skielik weg. Sy het nie gesien dat Gertjie by die speelgoedrak gaan sit het nie, en sy het verder gestap met sy baba-sussie in die trollie. Gertjie wil-wil net bang raak, maar dan besluit hy om eers die superheld-pak aan te trek... Hy wil net sien hoe dit lyk, DAN sal hy na sy mamma en sussie gaan soek! 

Net toe Gertjie die blou superheld-pak aanhet en die superheld-masker op sy oë sit, gebeur 'n snaakse ding. Hy skiet sommer so in die lug in op! Hy sweef deur die lug hoog bo die rakke. Die superheld-pak het hom in 'n regte egte superheld verander! 

Maar wat sien hy nou daaronder? ‘n Dief het nou net ‘n ou tannie se handsak gryp en na die winkel se deure begin hardloop. Gertjie vlieg tot kort op die dief se hakke en skree: “Stop dief!” Die dief draai verbaas om, en Gertjie duik af en gryp die handsak by hom. Soos blits vlieg Gertjie om en om die dief tot hy die dief heeltemal dronk is daarvan! Hy kan nie meer hardloop nie en val plat op die winkelvloer. Gertjie gee die ou tannie se handsak vir haar terug. Al die mense klap hande en juig: “Dapper Gertjie, die superheld!” Gertjie glimlag en skiet weer die lug in! 

Hy vlieg in sirkels in die winkel rond en sien hoe sy ma en kleinsussie na hom soek by die speelgoed. Hy duik af en land saggies reg voor hulle. “Gertjie! Hier is jy! Word wakker!” Gertjie skrik wakker en sien sy mamma hier voor hom staan. Hy het sowaar hier tussen die speelgoedrakke aan die slaap geraak op die sagte teddiebeer se skoot! Hy was seker baie moeg van al die inkopies doen. En raai? Gertjie se mamma is só bly dat sy hom gekry het, dat sy nie eens vies is nie. ÉN sy besluit om sommer vir hom die blou superheld-pak koop wat aan die winkelrak hang!

Comments
* The email will not be published on the website.